As jy Dans dat die biesies bewe, is dit pret tot die mag twee

Dans dat die biesies bewe, die regisseur en skrywer Luzanne Potgieter se Silwerskermfeesdebuut, is die tipe film wat al in die openingstoneel jou mondhoeke opwaarts laat krul. Voor jy jou kan kry, glimlag jy twéé keer so breed, en raampie vir raampie kruip die kostelike hoofkarakter, Mieke, dieper en dieper in jou hart in.

In dié heerlike kortfilm laat Mieke die dansvloer brand – op háár manier. Alhoewel Mieke nie die bou of opleiding van ’n klassieke danser het nie, droom sy daarvan om een te wees. Dan kom haar groot kans. Ene Wimpie Steyn, haar musiekheld en die coolste ou in Daspoort, se hoofdanser is beseer – én raai wat, Wimpie hou oudisies!

Die bekende sepie-akteur Izak Davel, wat dans by die Tshwane Universiteit van Tegnologie geswot het, verskyn as die loslit Wimpie Steyn. Maar Dans dat die biesies bewe se eintlike sterre is Mieke en haar ouboet. 

Dans dat die biesies bewe is ’n familie-vriendelike komedie met ’n eenvoudige boodskap: Moenie dat enigiets in jou pad staan om jou drome na te jaag nie en onthou, bloed is regtig dikker as water,” sê die vervaardiger Lara Lourens. 

Lara en Luzanne het hard gesoek na die perfekte Mieke totdat Cara Meiring, tans ’n derdejaarstudent by PALI Incubation, in ’n volle karakterkostuum haar danspassies by hul oudisies kom wys het. Cara was ook te siene in die Showmax-reeks Horisonne, en Mieke se broer word vertolk deur die akteur en musikant Rikus Strauss. 

’n Deel van Dans dat die biesies bewe se bekoring lê in die nostalgie wat die film vir die vroeë 2000’s oproep. “Ons het tonne pret gehad met die skep van Mieke se kleurvolle wêreld in ’n spanner valley van dié tyd,” vertel Luzanne.   

Hier is ’n rits pretfeite oor die filmspan. Let op hoe die woorde “twee” en “ook” telkens opduik. 

  • Daar is twee Cara’s in die rolverdeling. Buiten Cara Meiring (Mieke), speel Cara Kruger Mieke se vriendin, Lienkie. Daar was gereeld “watter Cara?”-oomblikke vir die produksiespan.
  • Cara Kruger (Lienkie) het ’n tweelingsussie, Anri, ’n aktrise wat ’n assistent in die film se kostuumdepartement was. 
  • Luzanne se kêrel, Arné Boshoff, het ook ’n kortfilm by vanjaar se Silwerskermfees. Hy is die skrywer en regisseur van Thrift tot die dood.  
  • Buiten die regie het Luzanne Dans dat die biesies bewe se choreografie behartig. Voor sy haar voete in die filmwêreld gevind het, was Luzanne ’n professionele danser met Springbokkleure. Sy was in 2018 die IDO se wêreldkampioen.  
  • In plaas van die problematiese oorspronklike leotard wat Mieke dra, moes die kostuum-assistente Tanika du Randt en Anri Kruger die aand voor verfilming self ’n nuwe een maak. 
  • Naret Loots is eintlik ’n talentvolle aktrise, maar is toe net so talentvol as die film se produksie-ontwerper. Sy en haar assistent, Darius Pretorius, het al die interessante rekwisiete gevind. 
  • Soos Luzanne het die vervaardiger, Lara Lourens, haar debuut by die Silwerskermfees gemaak (met die 2016-kortfilm Koue voete). Sy het in die afgelope jaar ses kykNET-storiefilms vervaardig, waarvan sy twee geskryf het. Lara is ook ’n aktrise en was te sien in die kykNET-reeks Huis Lelieveld. 

Dans dat die biesies bewe wys Vrydag 25 Augustus om 09:00 by die fees en sal later op kykNET en Showmax te siene wees.